|

AfriForum dien klagtes teen Gautengse departementshoofde in

Henk Maree en Monique Taute by die Johannesburg-Sentraal Polisiestasie

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen vier Gautengse departementshoofde by die Johannesburg-Sentraal Polisiestasie ingedien ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1998.

Dit volg op die bekendstelling van die nasionale veldtog “Genoeg is Genoeg”, waarby AfriForum dertien departemente volgens die ouditeur-generaal (OG) se jaarlikse gekonsolideerdeverslag geïdentifiseer het as die hoofbydraers tot onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes.

Die burgerregte-organisasie het in Januarie 2016 ’n nuwe nasionale veldtogte-afdeling begin en dié afdeling het as eerste nasionale projek die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld as ’n nasionale krisis geïdentifiseer nadat toepaslike wetgewing, departementele jaarverslae en verslae van die OG bestudeer is en regsmenings ingewin is.

Dié departemente is onderskeidelik die departemente van paaie en vervoer, gesondheid, onderwys en menslike nedersettings. Van dié vier is die departement van paaie en vervoer volgens die OG-verslag die grootste sondaar.

Klagtes is vandag teen Daphney Ngoasheng, Gautengse departementshoof van menslike nedersettings, dr. Hugh David Gosnell, Gautengse departementshoof van gesondheid, Boy Ngobeni, Gautengse departementshoof van onderwys en Ronald Swartz, Gautengse departementshoof vir paaie en vervoer ingedien.

As deel van dié veldtog gaan AfriForum sewe ander provinsies oor die volgende twee weke besoek waartydens strafregtelike klagtes ook teen ander provinsiale departementshoofde ingedien sal word wat versuim het om die wanbesteding van belasting geld te voorkom.

Ben Geldenhuys, hoof van finansiële dienste by Finkor sê dat AfriForum die saak op die regte wyse aanpak.

“Dit lyk of AfriForum die politieke wil het om deel van die oplossing te wees en die wanbesteding van belastingbetalers se geld te bekamp.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 (R1) te stuur of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Soortgelyke plasings