|

AfriForum dien klagtes oor verkwiste R170 miljoen teen Limpopo se Departement van Gesondheid in

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes ingedien teen dr. Ntsie Kgaphole, hoof van Limpopo se departement van gesondheid as deel van dié organisasie se nasionale veldtog teen die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dít volg nadat AfriForum die departement se jaarverslag bestudeer het en bevind het dat Kgaphole skuldig is aan oortredings ingevolge Artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (wet 1 van 1999).

AfriForum sal al nege provinsies tussen 18 en 22 November 2019 besoek, waartydens strafregtelike klagtes teen die hoofde van elke provinsiale departement van gesondheid ingedien sal word.

“Die verkwisting van belastingbetalergeld is ’n nasionale krisis en die verantwoordelike partye moet aanspreeklik gehou word. Dit is waarom ons vandag hierdie klagtes gelê het. Die wanbesteding van fondse is een van die hoofredes waarom ons nie met die inwerkingstelling van NGV op die regering kan staatmaak nie: Hulle het bewys dat hulle nie met belastingbetalergeld vertrou kan word nie,” sê Marié Naudé, AfriForum se hoof vir gemeenskapstukture vir die noordstreek.

Die departement van gesondheid in Limpopo se jaarverslag dui aan dat dié departement in die 2017/2018-finansiële jaar R166 miljoen onreëlmatige bestee het. Die departement het ook meer as R3,5 miljoen in die 2017/2018-finansiële jaar op vrugtelose en verkwistende wyse bestee.

Onreëlmatige besteding behels alle uitgawes wat teenstrydig met die Wet se voorskrifte is. Vrugtelose en verkwistende besteding is uitgawes wat tevergeefs aangegaan is en voorkom kon word indien redelike voorsorg getref was. Hierdie buitensporige besteding kon voorkom word as Kgaphole sy pligte nagekom het.

“Die klagtes teen die departementshoofde word gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Die departementshoofde laat belastingbetalers in die steek deur in die uitvoer van hul pligte te misluk,” sluit Naudé af.

AfriForum moedig die publiek aan om NGV teen te staan deur hul mandaat vir AfriForum te gee en kommentaar teen NGV op AfriForum se webtuiste by www.jougesondheid.co.za in te dien.

Soortgelyke plasings