|

AfriForum dien klag in teen voormalige departementshoof van gesondheid in Nelspruit

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen Richard Mnisi, voormalige departementshoof van gesondheid in Mpumalanga, ingedien ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1998.

Die klagtes is by die polisiestasie in Nelspruit ingedien.

AfriForum het die OG se gekonsolideerde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudituitkomste vir die 2014/2015-boekjaar geraadpleeg en 13 provinsiale departemente geïdentifiseer wat die meeste belastinggeld wanbestee het. Dié departemente is die departemente van paaie en vervoer, gesondheid, onderwys en menslike nedersettings. Van dié vier is die departement van paaie en vervoer volgens die OG-verslag die grootste sondaar.

AfriForum is van mening dat die 13 departementshoofde moontlik op nalatige wyse versuim het om aan artikel 38 en 40 van die Wet te voldoen en daarom is besluit om strafregtelike klagtes teen die hoofde van die 13 departemente in te dien.

Artikel 38(1)c van die Wet bepaal dat rekenpligtige beamptes van ’n departement doeltreffende en toepaslike stappe moet doen om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes te verhoed. Hulle moet doeltreffend bestuur en ook optree teen oortreders wat hul skuldig maak aan die verkwisting van geld.

“Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ’n voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die Wet nakom nie,” het Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder vir die projek gesê.

Die ekonoom Mike Schussler het aan Forum Nuus gesê dat dit goed is dat iemand optree en poog om ʼn verskil te maak deur op te tree teen die wanbesteding van belastinggeld. “Dit maak nie saak watter ras jy is of watter leierskapsposisie jy beklee nie. As jy belastingbetalers se geld wanbestee, móét daar teen jou opgetree word.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 (R1) te stuur  of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

 

 

Soortgelyke plasings