AfriForum, die SOS en Solidariteit veg terug met meer as 10 000 kommentare teen voorgestelde skoleregulasieveranderinge in Gauteng

 

Die burgerregtewaghond AfriForum, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit dien vandag meer as 10 000 kommentare van ouers en lede van die publiek in teen die beplande wetswysiging vir Gautengse skole wat die LUR van die Gautengse onderwysdepartement, Panyaza Lesufi, op 30 Julie 2018 bekend gemaak het.
Die publiek het tot Donderdag gehad om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasiewysigings. Hierdie wysigings behels onder meer dat die LUR vir onderwys in Gauteng die finale sê sal hê oor ʼn skool se taal -en toelatingsbeleid. Die departement sal ook kan besluit wanneer ’n skool vol is of nie. Voorgestelde regulasies bepaal verder dat geen leerling op grond van taal toegang tot ’n skool geweier kan word nie en dat leerlinge wat binne ʼn radius van 30 kilometer van die skool woon, ook binne die skool se voedingsgebied val.

“Lesufi het talle openbare vergaderings gehou waar bekommerde Afrikaanse ouers vrae gevra het. Dié vrae is egter nie by een van die vergaderings beantwoord nie. Inteendeel, ouers wat veral oor moedertaalonderrig gevra het, is as rassiste uitgekryt,” sê Carien Bloem, koördineerder vir onderwys by AfriForum.
“Dit was dalk vir Lesufi maklik om Afrikaanse ouers by openbare vergaderings te ignoreer, maar dit gaan moeiliker wees om 10 000 amptelike kommentaarstukke met dieselfde minagting te bejeën,” voeg Bloem by.

Melanie Buys, hoof van stelsels by die SOS, sê die witskrif vir onderwys van 1996 beklemtoon dat ouers en die gemeenskap ’n belangrike rol het in die opvoeding van ons kinders en dat die staat se rol in ’n openbare skool tot die minimum beperk moet word. Openbare skole is ook al hoe meer afhanklik van hulpbronne vanaf die gemeenskap, aangesien die regering al hoe minder ondersteuning aan skole bied.

“Hierdie magsvergryp deur die LUR sal nadelig wees vir alle skole en die gemeenskap magteloos laat ten opsigte van die opvoeding van hul eie kinders,” voeg Buys by.

AfriForum, SOS en Solidariteit het die aanlynplatform #Virskole geskep, waarop lede van die publiek maklik kommentaar kan lewer. Binne twee weke het meer as 10 000 mense reeds deur die platform kommentaar gelewer. Dié kommentare is vandag amptelik om 12:15 by die departement se kantore in Johannesburg oorhandig. Die SOS het die hoof van die departement en vir Lesufi ook versoek om die groep wat die oorhandiging behartig, toe te spreek daartydens.

“Deur die kommentaar persoonlik te oorhandig, dwing ons die departement om kennis te neem daarvan dat duisende belanghebbendes ’n grief het met die voorgestelde regulasiewysigings. Ons doen ’n beroep op die departement om hierdie kommentare ernstig te oorweeg wanneer ’n uiteindelike besluit geneem word oor die wysiging van die regulasies,” sê Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsdienste.

Soortgelyke plasings