AfriForum dagvaar polisie om vir grondgryp te betaal


Die verontregte eienaar van ’n plaas naby Onderstepoort in Pretoria het vandag in samewerking met AfriForum ’n dagvaarding uitgereik teen Bheki Cele, minister van polisie, om die kostes en uitgawes verbonde aan ’n dringende uitsettingsaansoek in 2018 te verhaal. Die polisie het versuim om hul pligte tydens ’n grondgryp wat op die perseel plaasgevind het, uit te voer.

Die polisie het in Augustus verlede jaar geweier om dr. Motodi Maserumule by te staan om betreders te arresteer wat sy grond wederregtelik betree en begin het om strukture op te rig.
Dr. Maserumule het AfriForum genader en ’n dringende hofbevel bekom wat gelas het dat die betreders verwyder word, en dat die polisie die balju daarmee behulpsaam moet wees. Dr. Maserumule en AfriForum het die Rooimiere ’n mandaat gegee om die betreders en strukture te help verwyder.

“AfriForum raak betrokke by sake soos hierdie om toe te sien dat die polisie gedwing word om hulle werk te doen. Ons hoop dat hierdie eis as afskrikmiddel sal dien sou die polisie in die toekoms huiwer om hul grondwetlike mandaat uit te voer. AfriForum sal hierdie litigasieproses deursien ten einde die gemeenskap daarop attent te maak dat die wetstoepassingsowerhede se laksheid nie ongesiens verby gaan nie. Hierdie dagvaarding sal dien as ’n swaard oor die kop van instansies wat deur die Grondwet getaak word om burgers teen misdaad te beskerm. Hulle moet hul mandaat uitvoer of die gevolge dra,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Die dagvaarding is op die minister beteken. Hy het die geleentheid om ’n verweer teen die eis te opper al dan nie. Dan sal die proses gevolg word totdat ’n regter ’n beslissing hieroor kan maak.

“In die dagvaarding word daar verder versoek dat die minister ook die regskostes verbonde aan hierdie aksie moet betaal. Indien hy dus ’n poging aanwend om ’n power verweerskrif te liasseer, en die eis slaag, sal dit ’n duur oefening vir die polisie wees. AfriForum glo dat die polisie aan die einde van dié aksie twee keer sal dink voordat hulle hul plig weier,” sluit Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, af.

Soortgelyke plasings