|

AfriForum: Cele vasbeslote om wettige wapeneienaars eerder as kriminele te ontwapen

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kennis geneem van die opmerkings wat Bheki Cele, minister van polisie, op 14 Januarie 2020 in Johannesburg gemaak het. Cele het weer eens bevestig dat hy wettige vuurwapeneienaars wil ontwapen en individue wil verhoed om enige wapens te besit. Hy meen dat dit tot almal se veiligheid sal bydra. Hy het ook by ’n vroeëre geleentheid beklemtoon dat die SAPD nie daartoe in staat is om sy mandaat te vervul nie en dat dit slegs inspeksies sal kan doen en vuurwapens doeltreffend kan naspeur as individue toegelaat sou word om slegs een vuurwapen te besit.

“Cele is weer eens besig om ander se vryhede te probeer beperk terwyl sy eie huis nie netjies is nie. Cele het onlangs nog vrae in die parlement beantwoord en erken dat 500 dienspistole oor die afgelope drie finansiële jare deur SAPD-beamptes “verloor” is (wat toegelaat word om hul vuurwapens huis toe te neem). ’n Bykomende 10 765 rondtes ammunisie is ook deur beamptes verloor terwyl hulle van diens af was. Dit – hetsy bykomend tot of reeds ingereken by die 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 vuurwapens wat andersins oor die afgelope ses jaar deur polisiebeamptes verloor is – dui op ’n enorme probleem,” sê Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Hoewel Cele erken het dat daar ’n behoefte aan strenger grenspolisiëring bestaan om te voorkom dat vuurwapens na Suid-Afrika gesmokkel word, is dit geen geheim nie dat die meeste van Suid-Afrika se grense deurdringbaar is en in sommige gevalle fisies nie eens bestaan nie. Die onlangse diefstal van negentien R4-gewere vanuit ’n militêre basis bewys heel duidelik dat die ander statutêre liggaam wat daarmee getaak is om die land se grense te beskerm nie eens hul eie wapens kan beskerm en beveilig nie. Dit is hoogs waarskynlik dat dié “verlore” vuurwapens reeds in die hande van misdadigers is. Dit blyk egter dat die minister daarmee geneë is om dié feit mis te kyk en eerder sy veldtog wil voortsit om die burgery te ontwapen – die bogenoemde ten spyt.

“Die minister is weer eens besig om die onbevoegdheid van sy departement en die SAPD te verdoesel deur die vryheid van individuele Suid-Afrikaners in te perk. Eerder as om daarop te fokus om die SAPD te versterk sodat dit sy mandaat kan vervul, kies Cele die maklikste uitweg deur te probeer om hul werkslading te verminder – tot nadeel van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners wat deur wegholmisdaad in die gesig gestaar word,” sê  Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

AfriForum sal voortgaan om enige voorstelle ten opsigte van vuurwapeneienaarskap te moniteer, asook voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2000. Indien enige iets in dier voege gepubliseer word, sal AfriForum die nodige kommentaar daarop lewer en enige stappe doen om te probeer om enige wysigings te keer wat Suid-Afrikaners negatief sal beïnvloed.

Soortgelyke plasings