| |

AfriForum by VN se Afrika-Midde-Oosterse Forum vir Onderwys, Taal en die Menseregte van Minderhede

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, verteenwoordig dié organisasie en die belange van Afrikaans by ’n werkgroepvergadering van die Verenigde Nasies (VN) se Afrika-Midde-Oosterse Forum vir Onderwys, Taal en die Menseregte van Minderhede. Dié byeenkoms vind sedert gister (28 Oktober) in Tunis, Tunisië, plaas. Dit is die eerste keer dat ’n vergadering van dié groep plaasvind en dit is die geesteskind van prof. Fernand de Varennes, die VN spesiale rapporteur vir minderheidsaangeleenthede.

Die eerste dag van die werksaamhede het op die rol van die spesiale rapporteur gefokus. Daarna het die aanwesiges aan voorstelle gewerk vir maniere waarop menseregte in die onderrig van en deur minderheidstale gehandhaaf kan word. Die voorstelle sal aan die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede vir verdere implementering en internasionale bewusmaking deurgegee word.

In sy voorlegging het prof. De Varennes genoem dat minderhede getallegewys kwesbaar bly selfs wanneer hulle ekonomies of polities dominant is. Om dié rede verdien alle minderhede aandag en beskerming. Wanneer onderriginstellings weier om onderrig in minderheidstale te gee, word die verskoning van koste dikwels gebruik. Hy het beklemtoon dat hierdie argument die feit buite rekening laat dat mense wat in hul moedertaal onderrig geniet, minder geneig is om hul studies voortydig te staak, en dus meer geletterd is en finansieel meer tot die ekonomie kan bydra. Dit dra direk tot die stabiliteit van ’n land by. Al is daar dus min sprekers van ’n taal, is dit steeds ’n waardevolle belegging om in onderrig van én in die taal self te belê. Dié plig is te belangrik om slegs aan die privaat sektor oorgelaat te word; regerings moet ook vir moedertaal- en spesifiek minderheidstaalonderrig in die openbare sektor voorsiening maak.

In die werksessie het Bailey AfriForum se ervaring met die stryd om die behoud van Afrikaanse onderrig, asook getuienis oor die gebrek aan ontwikkeling van die ander nege inheemse amptelike tale van Suid-Afrika met die aanwesiges gedeel. Die aanwesiges uit talle Afrika- en Midde-Oosterse lande kon hulself vereenselwig met haar ervaring van ’n regering wat lippediens aan meertaligheid bewys, maar geen politieke wil het om ruimte vir die onderrig van bepaalde gemeenskappe se taal te skep of behou nie. Talle gemeenskappe ervaar dat owerhede in hul eie lande die grootste struikelblokke of selfs vyande van hul taal en kultuur is – ’n toestand wat die VN se Forum uit die weg wil ruim.

Van die aanbevelings wat Bailey gemaak het, is onder meer dat minderheidstale teen die mag van groot internasionale tale beskerm moet word en dat wetgewers en die regbank van lande bewus gemaak moet word van die belang van taalregte as ’n sleutelmensereg.

Vandag se werkswinkel fokus op die beste praktyke wanneer taalbeleide geskep word, asook op hulpbronbestuur en die suksesvolle implementering van minderheidstaalonderrig.

Soortgelyke plasings