|

AfriForum-buurtwagte spoor gesteelde voertuig op

AfriForum se Pretoria-Wes- en Wes-Moot-buurtwag het op 5 Augustus 2019 daarin geslaag om ’n gesteelde voertuig op te spoor en aan die eienaar terug te besorg. Dít volg nadat die voertuig op 30 Julie 2019 in die Hercules-gebied gesteel is. Een van die Pretoria-Wes-buurtwaglede het die voertuig langs die pad gewaar en onmiddellik agter die voertuig ingetrek. Die lid het die voertuigspesifikasies deurgestuur om te verifieer of dit wel die gesteelde voertuig is.

Volgens Bets Koortzen, lid van AfriForum se Pretoria-Wes-buurtwag, was die verdagtes nie op die toneel nie en die voertuig was erg beskadig. “Hulle het die panele binne die kar stukkend gebreek tesame met die dak en paneelbord. Die spaarwiel, battery en goedere wat in die voertuig was, is ook gesteel.”

Die Pretoria-Wes-buurtwag het die Wes-Moot-buurtwag onmiddellik ontbied om addisionele bystand te lewer, waarna die polisie ook na die toneel ontbied is.

Die eienaar is later in kennis gestel dat sy voertuig opgespoor is.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, is goeie samewerking tussen verskillende strukture van kardinale belang om misdaad hok te slaan. “Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking tussen die SAPD, die gemeenskap en privaat sekuriteit, asook doeltreffende kommunikasie. Met AfriForum se nasionale radiostelsel kon die buurtwagte maklik tussen mekaar en AfriForum se hoofkantoor koördineer om die nodige reaksie so vinnig as moontlik by die toneel te kry.”

Raak vandag nog aktief by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1) en dra by tot die positiewe verskil.

Soortgelyke plasings