|

AfriForum-buurtwagte skerp veiligheid op

AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het die afgelope naweek veiligheid in hul gebied opgeskerp deur gedeeltes van die heining langs die treinspoor reg te maak nadat sowel die Oos-Moot- as Moot-buurtwagte op 25 Julie te voet aan patrollies deelgeneem het. Buurtwaglede het al langs die treinspoor van Gezina tot in Queenswood gestap om probleme te identifiseer en opgemerk dat die palissadeheining op verskeie plekke oopgebreek is om vinnige ontsnappingsroetes te skep.

Volgens Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, is die treinspoor ’n groot bron van kommer vir inwoners.

“Ons het verskeie klagtes ontvang omdat misdadigers dié treinspoor as ’n deurgang tot die gebied gebruik. Ons het daarom besluit om die heining te herstel en ons gebied só te beveilig.”

AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het hul aandag eerstens aan die heining by die Nick Strydom-brug in Waverley geskenk. Twee van die gate wat die buurtwag herstel het, is gemaak om onwettige toegang tot die treinspoor te verkry. Die derde deel wat herstel is, is deur Prasa beskadig om rondom die treinspoor te werk. Die buurtwag het ook ’n hek geïnstalleer sodat Prasa dit in die toekoms kan gebruik sonder om die heining te beskadig. Die Moot-buurtwag beplan om binnekort ook die heining in hul eie gebied te herstel.

Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-buurtwag, sê dat hierdie patrollies en herstelprojekte dalk klein mag lyk, maar dit lewer ’n groot bydrae tot bewusmaking en verhoging van veiligheid in dié buurtwagte se omgewings.

“AfriForum se buurtwagte is hier om ’n verskil te maak deur gemeenskappe te mobiliseer, hulp te bied en die SAPD te ondersteun. Ons pak graag probleme in ons gemeenskap aan wat ons lede se veiligheid benadeel.”

Opperman sê ook dat hierdie soort projekte samewerking bevorder en die weerbaarheid van die gemeenskap opskerp.

“Dit is vir ons belangrik dat die gemeenskap betrokke raak en deel van die buurtwag vorm. Daarom wil ons almal uitnooi om by dié veiligheidstrukture aan te sluit. Ons wil ook al ons aktiewe lede bedank vir die harde werk en tyd wat hulle opoffer om soortgelyke aksies moontlik en volhoubaar te maak.”

Raak vandag by die buurtwagte betrokke: SMS “Oos-Moot” of “Moot” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings