AfriForum-buurtwagte red polisieoffisier uit motorwrak

AfriForum se Sektor 5-buurtwag in Bloemfontein het op Vrydagaand, 26 Mei, ’n kernrol gespeel tydens die suksesvolle hantering van ’n ongelukstoneel in Pasteurrylaan in dié stad.

Danksy AfriForum-buurtwagte se gevestigde netwerke en sisteme is mediese hulp na dié toneel ontplooi, waar ’n motorbestuurder alleen in sy voertuig in ’n sloot gevind is. Hy het sy bewussyn verloor en was kritiek beseer.

Bystand is gebied nadat die eerste AfriForum-buurtwagpatrolleerders binne twee minute op die toneel was. Daar is vasgestel dat die beseerde ’n polisieoffisier is.
Die AfriForum-buurtwagpatrolleerders het die mediese personeel bygestaan om die beseerde uit die wrak te bevry en om hom te stabiliseer. AfriForum-buurtwagpatrolleerders het ook gehelp om die verkeervloei rondom die ongelukstoneel te reguleer om verdere ongelukke te vermy en die pad toeganklik te hou vir mediese voertuie en die brandweer om die beseerde so spoedig moontlik by die hospitaal te kry.

Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dat AfriForum sal voortbou aan Projek Nehemia – die burgerregtewaghond se landswye gemeenskapstrategie teen geweldsmisdaad. “Buurtwagte vorm die kern van hierdie strategie en die hulp wat AfriForum-buurtwagpatrolleerders tydens dié ongeluk verleen het, wys dat Projek Nehemia ’n wetlike raamwerk skep om weer hoop te gee aan gemeenskappe.”

Soortgelyke plasings