| |

AfriForum-buurtwagte in Standerton en Secunda verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

Die AfriForum-buurtwag in Standerton het op 8 November 2019 in samewerking met die SAPD en Kasselman Veiligheidsdienste aan dié organisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Elf patrolleerders het van 19:00 tot 04:30 nagenoeg 280 km in 20 manure afgelê. Geen ernstige voorvalle is aangemeld nie.

AfriForum se Secunda-buurtwag het op 9 November 2019 in samewerking met die SAPD ook aan die nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Vyftien patrolleerders het van 16:00 tot 04:30 ongeveer 1 000 km in 110 manure afgelê. Geen ernstige voorvalle is aangemeld nie.

Die burgerregteorganisasie het op 30 Oktober 2019 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoësigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.

 

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul omgewing te beveilig,” sê Dawie de Villiers, voorsitter van AfriForum se Secunda-buurtwag.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings