AfriForum-buurtwagnetwerk in Orania brei uit

AfriForum het in samewerking met Orania Veiligheid, op 9 Maart 2017, met die onderskeie polisiestasies asook die landbouprodusente in die omgewing, vergader. Hopetown, Luckhoff, Philipstown, Wanda, Vanderkloof en Petrusville se polisiestasies is tydens die vergadering verteenwoordig.

Hierdie vergadering volg ná ʼn onlangse plaasaanval naby Luckhoff, wat die behoefte na veiligheid onder lede van die gemeenskap versterk het. Tydens die vergadering is die samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bespreek en al die rolspelers teenwoordig het die ooreenkoms aanvaar.
Verskeie idees vir die skep van ʼn veiligheidsnetwerk het na vore gekom en daar is besluit dat AfriForum die gemeenskappe sal help om in die verskeie dorpe sterk strukture op die been te bring.

“Van hierdie areas het geen selfoonopvangs nie, wat uiters kommerwekkend is. Plaasopstalle is sover as 30 km uit mekaar en dit sal onmoontlik wees om ’n noodkreet tussen huise te hoor. Daarom is effektiewe kommunikasiekanale so belangrik,” sê Jan-Piet Cooks, Veiligheidskoördineerder van AfriForum.
Volgens Linja van Wyk, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, kom verskeie veiligheidsnetwerke op ʼn daaglikse basis, regoor Suid-Afrika van die grond af. “AfriForum werk hier saam met die gemeenskappe, Orania Veiligheid en die SAPD om ’n sterk veiligheidsnetwerk te vestig.”
“Hierdie vergadering is ʼn groot stap in die regte rigting in ons geveg teen misdaad. Ons beplan om ʼn gevestigde en effektiewe veiligheidsnetwerk in dié omgewing te skep om sodoende die veiligheid van ons inwoners te verseker,” sê André Coetsee, voorsitter van veiligheid in Orania.

Soortgelyke plasings