|

AfriForum-buurtwaglede help om vermeende brandstofdiewe in hegtenis te neem

AfriForum-buurtwaglede in Potgietersrus het op 5 Augustus 2020 vermeende brandstofdiewe in samewerking met lede van die SAPD vasgetrek.

Die eienaar van ’n plaaslike vervoeronderneming en AfriForum-buurtwaglid is op 3 Augustus ingelig dat 150 liter diesel vir een van sy trokke ingegooi is. Dié volume was vir hom vreemd en hy het saam met die buurtwag ondersoek gaan instel by die vulstasie waar die brandstof ingegooi is. Ná hulle kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan het, het hulle gesien dat die brandstof in kannetjies agterop ’n bakkie ingooi is en die brandstofmerker van een van die vervoeronderneming se trokke daarvoor gebruik is. Nadat die bakkie vertrek het, het die trok opgedaag, waarna die brandstofjoggie die brandstofmerker weer vir die trokbestuurder gegee het.

Buurtwaglede het in samewerking met die SAPD se misdaadintelligensieafdeling die brandstofjoggie en bestuurder in hegtenis geneem, asook nog ’n verdagte wat met die saak verbind word. Die verdagtes word vermoedelik met ’n netwerk van brandstofdiefstal verbind.

“Ons is baie dankbaar vir hierdie sukses. Sakeondernemings en gemeenskappe moet saamwerk om mekaar te beveilig. Ons wil die SAPD bedank vir hul professionele optrede,” sê Hennie de Vos, lid van AfriForum se Potgietersrus-buurtwag.

“Hierdie is ’n baie goeie voorbeeld van hoe goeie bestuur van inligting tot ’n operasionele sukses lei wat ’n veilige ruimte vir sowel die gemeenskap as sakelui skep. Ons sien die onbaatsugtige opofferinge van die patrolleerders raak – en waardeer dit,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Die AfriForum-buurtwaglede in Potgietersrus is besig om ’n gestruktureerde buurtwag te stig. Om by dié buurtwag betrokke te raak, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings