AfriForum-buurtwag in Secunda staan gemeenskap by

AfriForum se buurtwag in Secunda het die afgelope paar weke die gemeenskap bygestaan deur te help om verskeie probleme op te los.

Op 30 Junie 2017 het die plaaslike buurtwag inligting ontvang dat ’n elektrisiteitskabel tydens die herstel van ’n waterlek beskadig is. Buurtwaglede het hierop reageer en met hulle aankoms op die toneel gesien dat die beskadigde kabel ’n brand veroorsaak het wat besig was om na die substasie te versprei. Die buurtwag het in samewerking met ander veiligheidsinstansies bystand gebied om die situasie te beredder en het ook gehelp om nuuskierige bystanders veilig te hou.
Op 4 Julie 2017 is die Secunda-buurtwag van ’n waterlek by die plaaslike vliegveld ingelig. Dit het aan die lig gekom dat dié lekkasie al vir meer as drie dae nie deur die plaaslike munisipaliteit herstel is nie, waarna AfriForum-taklede die benodighede vir slegs R120 aangekoop het en die lek, wat duisende liters water gemors het, binne ’n uur herstel het.
Die Secunda-buurtwag het op 5 Julie 2017 op sosiale media gesien dat gemeenskapslede hulp versoek met die beveiliging van ’n gevaarlike gebied in die omgewing waarvan die heinings geknip is. Buurtwaglede het ingespring en die heining self herstel.

“Ons wil graag die gemeenskap, asook alle veiligheidsinstansies en nooddienste bedank vir hulle bereidwilligheid en bystand wanneer die gemeenskap hulle nodig het,” sê Nico Venter, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Secunda.
“AfriForum se buurtwagte bied regsverteenwoordiging, opleiding, toerusting en versekering aan al ons lede. Raak betrokke en help om jou gemeenskap se veiligheid te bevorder – skakel die Secunda-tak se noodnommer by 084 598 3845,” versoek Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Soortgelyke plasings