AfriForum-buurtwag in Sasolburg neem aan nasionale patrollie deel


Die AfriForum-buurtwag in Sasolburg, wat Sasolburg en Vaalpark insluit, het op 17 Mei 2019 aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem.

Altesaam 83 patrolleerders het tydens dié patrollie in 44 voertuie deelgeneem. Meer as 1 983 km is afgelê en 21 voorvalle is suksesvol in samewerking met die polisie hanteer. Die patrollie het ’n unieke begin gehad met ’n bootpatrollie op die Vaalrivier vanaf die Abrahamsrust tot by die Barrage en terug.
Sewe ander veiligheidsinstellings, onder meer die Sasolburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sekuriteitsmaatskappye, die polisie en nooddienste, het saam met AfriForum aan die patrollie deelgeneem.

“AfriForum bedank elke instelling wat aan hierdie aksie deelgeneem het. Goeie samewerking is van uiterste belang om misdaad in Sasolburg te bekamp,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
“AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Sasolburg en Vaalpark om betrokke te raak en om self hul veiligheid te begin prioritiseer. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings