|

AfriForum-buurtwag ruim parke in Doringkruin op

Lede van AfriForum se Klerksdorp-tak en die Doringkruin-buurtwag het op 5 Oktober 2019 parke in dié woonbuurt verfraai. Die lede het ook bome gesnoei en onkruid uitgeroei. Verder is die besproeiing en watertoevoer in Karob- en Tambotiepark herstel.

Twee witkareebome is in samewerking met De Brugge-kwekery, wat sowel die bome geborg as arbeiders voorsien het, geplant. Kinders het ook hand aan die ploeg geslaan en tydens die aksie gehelp. Talle vullissakke is ná die opruimingsaksie weggery.

Frans Roos, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, wil elke lid wat gehelp het hartlik bedank vir hul moeite om die woonbuurt te verfraai. Die gemeenskap word uitgenooi om van die parke gebruik te maak en daar is voorgestel om kinders in die toekoms by parkspeletjies te betrek.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het hierdie opruiming en verfraaiing van die parke baie meer waarde as dit wat die blote oog kan sien. “Die feit dat daar ook kinders betrokke was, is ’n baie goeie opvoedingstaak. Sodoende sal die kinders besef dat selfdoen beter is as niksdoen. Baie dankie aan elkeen wat sy Saterdag opgeoffer het om ’n verskil te maak.”

Sluit vandag nog by AfriForum se Klerksdorp-tak aan: SMS “Klerksdorp” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings