|

AfriForum-buurtwag ontvang sertifikaat van SAPD

Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag, het op 4 Oktober 2019 tydens AfriForum se nasionale patrollie ’n sertifikaat namens die Standerton-buurtwag van die SAPD ontvang vir goeie samewerking en die strewe om misdaad in en om Standerton te bekamp.

Moll het die sertifikaat by lt.kol. T.R. Sikhakhane van die Standerton-polisiestasie ontvang. Volgens Moll was dit vir hom ’n roeping om by die buurtwag betrokke te raak om die gemeenskap by te staan en Standerton sodoende ’n veiliger en ’n beter plek te maak. Die AfriForum-buurtwag in Standerton ry weekliks patrollie en hou ook maandeliks ’n massapatrollie.

Tydens die nasionale patrollie het buurtwagte in Standerton, Piet Retief, Secunda, Delmas en Eloff, asook die Argent-plaaswag polisiëringsigbaarheid in hul onderskeie gebiede verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en sekuriteitsmaatskappye uitgevoer.

Altesaam 230 patrolleerders, wat sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies insluit, het 3 830 km met 112 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend geduur. Die buurtwagte het hulp verleen tydens dronkbestuurvoorvalle, pogings tot huisbraak en verskeie motorongelukke.

“Die Hoëveld-buurtwagte sal misdaad voortdurend in samewerking met die SAPD en veiligheidsinstansies hokslaan met gereelde patrollies om veiligheid te bevorder,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings