|

AfriForum-buurtwag in Orkney maak stem dik teen plaasmoorde

Die AfriForum-buurtwag in Orkney het op 18 Julie 2020 ’n massapatrollie gehou ter ondersteuning van die veldtog teen plaasmoorde en die groenstrikkie-inisiatief. Inwoners van Orkney en Stilfontein het hul ondersteuning gewys en groen strikke en plakkate het vroeg Saterdagoggend teen inwoners se heinings gepronk. Die massapatrollie met 37 voertuie het om 14:15 weggetrek en inwoners het op die roete by die konvooi voertuie ingeskakel en saamgery. Die roete het oor 56 km gestrek en twee uur geneem om te voltooi.

“Hierdie massapatrollie is op baie kort kennisgewing georganiseer en ons het gespring om alles in plek te kry. Ons is bevoorreg dat ons ’n uitstekende span buurtwaglede het wat nie skroom om hul moue op te rol en aan die werk te spring nie. Die publiek se ondersteuning met aksies soos hierdie inspireer ons om nog meer en nog beter te doen. Ek wil almal wat betrokke was vir hul bydrae bedank tot die suksesvolle uitvoering van hierdie aksie,” sê Joanita Labuschagne, voorsitter van AfriForum se Orkney-buurtwag.

“Ek is dankbaar dat die gemeenskap die patrollie teen plaasmoorde so goed ondersteun het en is trots op die buurtwag se inisiatief. Hierdie gemeenskap bewys dat hulle eienaarskap van hul eie veiligheid geneem het en doen wat gedoen moet word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié buurtwag betrokke te raak om sodoende mekaar se veiligheid te verseker: SMS “Orkney” na 45351 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings