|

AfriForum-buurtwag in Fochville hou gesamentlike Swart Vrydag-operasie

Die AfriForum-buurtwag in Fochville het tydens Swart Vrydag vir die eerste keer saam met die SAPD aan ’n geslaagde operasie deelgeneem. Lede van die buurtwag het van 06:00 saam met lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) voetpatrollies in die sakesentrum gedoen en het mense bedag gemaak op veiligheid. Hulle het veral aan ouer gemeenskapslede bystand verleen omdat húlle dikwels slagoffers van misdaad is. Die tweede deel van die operasie het om 14:00 saam met die polisie ook in dié sentrum plaasgevind.

Die plaaslike GPF het die buurtwag ook versoek om hulle die Vrydagaand by te staan met veiligheid tydens ’n vertoning waar die sanger Refentse opgetree het.

Volgens Corlia Janse van Vuuren, AfriForum-buurtwagvoorsitter in Fochville, was dit ’n baie positiewe dag waar goeie bande met die plaaslike SAPD en GPF gesmee is. Almal wat betrokke was, het gedoen wat van hulle verlang is en het mekaar goed ondersteun.

“Ek is dankbaar dat die verskillende veiligheidsorganisasies in Fochville kragte saamspan ter wille van die veiligheid van al die inwoners. Die samewerking sal beslis ’n groot verskil maak in die veiligheidsituasie in die dorp. Dit is veral belangrik vir die feestyd wat voorlê,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Inwoners kan vir Janse van Vuuren by 082 613 4606 kontak om deel van die AfriForum se Fochville-buurtwag te word.

Soortgelyke plasings