|

AfriForum-buurtwag help om brande in Witrivier te bestry

Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het vandeesweek in samewerking met die plaaslike gemeenskap en brandweerdienste dae en nagte omgewerk om ernstige veldbrande in die omgewing te blus.

Volgens Johan Pelser, ’n lid van AfriForum se Witrivier-buurtwag, het ’n veldbrand Maandag uitgebreek in die Heidel Vallei-omgewing naby Witrivier wat vermoedelik deur bosbouers begin is. Die buurtwag het ’n oproep van ’n boer in dié omgewing ontvang na wie se plaas die brande versprei het en volgens Pelser het die buurtwag en gemeenskap tot 02:30 die volgende oggend gespook om die vure te blus.

Teen Woensdag het die buurtwag ’n oproep vanuit die Brondal-omgewing naby Nelspruit ontvang, waar nog ’n vuur uitgebreek het en ure se mannekrag geverg het om te blus.

’n Laaste brand het uitgebreek naby Spioenkop en volgens Pelser is plantasies in dié omgewing deur die brande vernietig en moes die gemeenskap brandbestrydingsvliegtuie ontbied om die vure verder te bestry.

Die oorsaak van dié brande is nog nie bekendgemaak nie.

“Die buurtwag en gemeenskap moes vinnig inspring en die brandweerdienste bystaan weens die bestryding van die vure in Nelspruit se middestad. Deur goeie samewerking kon ons daarin slaag om al die vure in die omgewing te blus,” het Pelser gesê.

 

Soortgelyke plasings