AfriForum-buurtwag en sekuriteitsmaatskappy trek veediewe vas


Die gesamentlike optrede van die AfriForum-buurtwag in Vryburg en P.H. Sekuriteits­maatskappy het Saterdagnag tot gevolg gehad dat veediewe vasgetrek is. ’n Wag van die sekuriteitsmaatskappy het ’n veedief op ’n plaas op die Kuruman-pad betrap waarna hy sy werkgewer, wat ook ’n AfriForum-buurtwaglid is, ontbied het en hy en ander buurtwaglede na die toneel is.
Die verdagte is op die plek in hegtenis geneem en hy het ook van sy medepligtiges aan die buurtwaglede gaan uitwys, wat tot gevolg gehad het dat vier vermeende veediewe in hegtenis geneem is.

“Dit is goed om te sien dat die buurtwag en sekuriteitsmaatskappye in Vryburg ’n goeie verhouding het, want die een kan nie sonder die ander nie. As almal saamwerk, maak ons self ons omgewing veiliger,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.
“AfriForum doen ’n beroep op die hele gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Ons kan nie slegs op die staat vertrou om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Pretorius af.

SMS “Vryburg” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings