AfriForum-buurtwag in Ellisras handhaaf orde by interhoërbyeenkoms


Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het in samewerking met Monster Security Services op Saterdag, 23 Februarie, twee persone aangekeer wat in die besit van dagga was tydens die interhoërbyeenkoms by Hoërskool Ellisras. Dié persone is aan die SAPD oorhandig.

Hoërskool Ellisras het die AfriForum-buurtwag genader om die veiligheid van die interhoërbyeenkoms te behartig. Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, was die dag ’n reusesukses. “Daar was slegs een voorval waar ’n kind se selfoon uit ’n bus gesteel is, maar die bus was nie gesluit nie. Geen verdere gevalle van diefstal is aangemeld nie,” sê Grobbelaar.
Volgens Grobbelaar was daar ook taxi’s buite die skoolingang waar mense alkohol misbruik en verhoed het dat voertuie by die skoolgronde kon in- en uitgaan. “Die SAPD was egter dadelik daar en het die situasie opgelos,” voeg Grobbelaar by.
Aldo Venter, AfriForum se takvoorsitter in Ellisras, het sy tevredenheid uitgespreek oor die inhegtenisname van die persone wat met dwelms op ’n skoolgrond rondbeweeg waar kinders boonop aan dié dwelms blootgestel kan word. “Hierdie mense se misdrywe het die potensiaal om ons kinders se lewens te verwoes en dit is ons plig as ouers en gemeenskap om dwelmhandelaars in samewerking met die polisie vas te trek,” sê Venter.

Verder het die tak gedurende die interhoërbyeenkoms gesorg dat ongewensde elemente weggehou word, soos mense wat drank by die skoolgrond probeer insmokkel het. Die  buurtwag het boonop gehelp om voertuie uit te sleep wat in die modder vasgeval het en om sleutels te help uitkry wat in voertuie toegesluit is, asook verseker dat almal die byeenkoms veilig verlaat.
Jy kan ook help om jou omgewing te beveilig: Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke deur “Buurtwag” na 45340 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings