|

AfriForum bring verligting vir Delmas-boere

AfriForum se Delmas-tak het vandeesweek droogtehulp aan 16 boere in Bothaville gebied as deel van AfriForum se samewerkingooreenkoms met Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand en TLU SA wat ondermeer aksies om droogteverligting te bring en voerprobleme op te los, inlsuit.

Jo-Ann Meyer, ʼn inwoner van Bothaville, het AfriForum om hulp genader waarna die organisasie dadelik ingegryp het. Meyer het aan Forum Nuus gesê dat die boere, hul gesinne en hul werkernemers in “totale armoede” geleef het en dat die meerderheid van hulle hul besittings moes verkoop om aan die lewe te bly.

AfriForum het 176 voerbale en drie vragte hoendermis aan dié boere geskenk. Elke boer het ook 11 sakke meel asook koopbewyse ter waarde van R15 000 vir kruideniersware ontvang.

“Ek wens julle kon die boere se gesigte sien,” het ʼn emosionele Meyer gesê. “AfriForum is absoluut uitstekend, ons moet almal aanhou om die organisasie te ondersteun.”

AfriForum het ook aan mnr. Jaap van Rensburg, ʼn boer in Schweizer Reneke, sowat 53 voerbale geskenk.

“Ons prys die Here en bedank AfriForum vir hul hulp. Ons het almal net trane in ons oë gehad.”

Mnr.Van Rensburg het aan Forum Nuus gesê dat die boere wat steeds sukkel moet vashou aan God se woord en ook aanhou om AfriForum te ondersteun.

“AfriForum praat nie net namens boere nie, maar tree ook in om ons te help.

Die vakbond Solidariteit het ook gister deur die veiling van foto’s R254 700 ingesamel om droogtehulp aan boere landwyd te bied. Die geld is aan die TLU-droogtefonds oorhandig.

“Hierdie foto’s dokumenteer seker een van die ergste droogtes wat Suid-Afrika nog beleef het sedert opnames van reënval in 1904 begin het. Dit was verblydend om te sien hoeveel mense bereid was om hierdie projek te steun en by te dra om die uitwerking daarvan op boere, wat die winkelrakke moet volhou, te verlaag,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het gesê dat elke mens deur die droogte geraak word dat ʼn noodfonds om dié rede gestig is. Mense kan R10 skenk deur “Droogtekrisis” na 38312 te SMS. AfriForum sal elke bydrae op ʼn rand-tot-rand basis verdubbel.

 

Soortgelyke plasings