|

AfriForum bring plaasmoorde-boodskap na ambassades in Pretoria

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het gister sy nasionale maand van protes teen plaasmoorde afgesluit met ’n bewusmakingsveldtog by ambassades in Pretoria.

Henk Maree, nasionale woordvoerder, het gesê memorandums is by sowat 15 ambassades in die stad afgelewer waarin ’n pleidooi vir die prioritisering van plaasmoorde gelewer is.

Verteenwoordigers van die organisasie is by die meeste ambassade-kantore verwelkom en ingelig dat die missies bewus is van die werk wat AfriForum doen sowel as die stryd wat teen plaasmoorde gevoer word.

AfriForum het versoek dat die lande druk op die ANC-regering moet plaas om die regte van minderhede te beskerm en indringend na plaasmoorde te kyk.

Dié veldtog kom nadat die regering verlede week op twee verskillende forums van onder meer een die VN dit duidelik gemaak het dat hy geen ag slaan op die regte van minderhede of boere in die land nie.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die AfriForum, is verlede week in Geneve deur die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger by die VN daarvan beskuldig dat organisasies soos AfriForum, wat op die prioritisering van plaasmoorde fokus,  “apartheid-simpatiseerders” is.

Roets het teruggekap en tydens die konferensie gesê dat die Suid-Afrikaanse regering se opmerking uiters beledigend teenoor minderheidsgemeenskappe is en ’n aanval is op die menswaardigheid van plaasmoordslagoffers.

Hy het ook die inkonsekwente optrede van die Suid-Afrikaanse regering uitgewys.

“Die regering is vinnig om aan te voer dat dit nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie, aangesien dit deel van ’n breër kategorie van misdaad is.”

By ʼn ander forum waartydens daar gestem is oor die rol van kampvegters vir menseregte, het die Suid-Afrikaanse regering aanvanklik téén en toe later weer ten gunste van die resolusie gestem.

 

“Hierdie gedrag deur die regering stuur ʼn duidelike boodskap. Dit is voor die hand liggend dat menseregte, en in besonder die regte van minderheidsgroepe, binne Suid-Afrika, nie vir die ANC-regering belangrik is nie,” meen Maree.

Maree het die boodskap by ambassades oorgedra dat die plaasmoordsyfer in Suid-Afrika vier keer hoër is as die algemene moordsyfer. Dit maak boere die grootste teiken om aangeval en vermoor te word. Maree het ook verwys na die brutaliteit wat dikwels met die moorde gepaard gaan. Só is Attie Potgieter, sy vrou, Wilma, en hul 2-jarige dogtertjie, Willemien, in 2010 uiters wreedaardig op hul plaas buite Lindley in die Vrystaat vermoor.

Die regering en polisie het dié moorde veroordeel, maar sedertdien bitter min gedoen om die krisis in die land te pak of plaasmoorde te prioritiseer.

Van die ambassades en hoë kommissariate waar die memorandum vandag oorhandig is, sluit in Duitsland, Namibië, Swaziland, Frankryk, Groot Brittanje, Switserland, Ghana, Angola, Hongarye en die DRK.

By die Duitse ambassade het George Velten, verteenwoordiger wat die memorandum ontvang het, gesê dit is algemeen bekend dat misdaad ’n probleem in die land is. Die kwessie van plaasmoorde is wel al by konferensies in Duitsland bespreek.

Die Nederlandse ambassade is bewus van AfriForum se veldtogte en het onderneem om die memorandum aan Marisa Gerards, ambassadeur, te oorhandig, wat dit op haar beurt onder haar regering se aandag sal bring.

Nicklaas Kandjii, waarnemende hoë kommissaris van Namibië, het Maree te woord gestaan en gesê AfriForum se pleidooi sal ook aan dié land se regering gekommunikeer word.

’n Verteenwoordiger van die Hongaarse ambassade het gesê sy is bewus van die kwessie van plaasmoorde in die land en ook van die omvattende veldtogte wat AfriForum in die verband doen. Sy het gesê Andras Kiraly, ambassadeur, sal kyk na die dokumentasie wat AfriForum, ingehandig het.

 

Soortgelyke plasings