AfriForum bring PAIA-aansoek oor visspesies in Tsitsikamma Nasionale Park


AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) (PAIA) teen die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gebring oor die besluit van Edna Molewa, minister van omgewingsake, om 20% van die Tsitsikamma Mariene Bewaringsgebied (TMBG) vir vissery oop te stel. Dít volg nadat die burgerregte-organisasie reeds in Februarie vanjaar ’n skrywe rakende sy kommer oor hierdie besluit aan Molewa gerig het.
AfriForum wil die volgende inligting bekom:

  • Die potensiële aantal ontspanningsvissers wat in dié gebied gaan visvang;
  • ’n Volledige verduideliking van die besluit om die gebied vir ontspanningshengelary oop te stel, insluitend wetenskaplike bewyse van watter impak dit op die gebied gaan hê;
  • Die rede waarom verskeie petisies teen die oopstelling van die TMBG geïgnoreer is;
  • Die betrokkenheid van die departement by die besluitnemingsproses en of die moontlike impak op vissersgemeenskappe wat in die gebied woon, in ag geneem is; en
  • Gegewe die presedent wat hierdie besluit skep, hoe die departement soortgelyke versoeke van gemeenskappe aangrensend aan die beskermde gebied gaan hanteer.

“Die minister het in haar 2017-begrotingstoespraak genoem dat die departement beoog om ’n nasionale riglyn vir die vestiging van kusbestuurslyne en die beskerming van kusgebiede te implementeer. Dit is daarom onduidelik hoe sy sonder enige diesulke riglyne haar besluit om die TMBG vir ontspanningsvissery oop te stel in Desember 2016 geneem het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

SMS jou naam na 45354 om AfriForum se petisie te ondersteun (R1).
Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings