|

AfriForum-boomplantmaand: ’n nuwe begin van hoop

AfriForum het op 28 Augustus sy jaarlikse boomplantmaand afgeskop deur ses Natal-vyebome (Ficus natalensis) by The Lucky Lucy Foundation (http://www.luckylucy.org/) buite Malmesbury te plant. AfriForum gaan die hele Septembermaand aan boomaanplantings regoor die land wy.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, is dié projek deel van ’n poging om die toekoms te verseker vir generasies wat kom. “Mense oor Suid-Afrika heen vier Boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil die hele Septembermaand aan bome toewy.”

Die organisasie het vanjaar weer eens ’n plan vir boomplantmaand uitgerol wat regoor die land toegepas gaan word. Altesaam 140 AfriForum-takke van dwarsoor die land gaan poog om meer as 2 500 bome deur die loop van die maand te plant.

In die onsekere tyd waarin ons leef – veral te midde van die COVID-19-pandemie en die inperking wat daarmee gepaard gaan – is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente en ’n nuwe begin met só ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant, gee vir ons moed vir die toekoms omdat ons plant vir die toekoms. Die boom gaan ’n simbool van oorlewing wees, want oor tien jaar kan jy na die boom kyk en sê: ‘Ons het oorleef.’

“Vanjaar wil ons takke en gemeenskappe aanmoedig om, buiten die bome wat ons takke op grootmaat gaan plant, ook bome by hul huise, skole, kerke, gemeenskapsentrums, ouetehuise en parke te plant. Ons wil takke ook aanmoedig om uit die lesse van die inperking en die COVID-19-pandemie te leer en waar moontlik vrugtebome te plant,” voeg De Klerk by.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Hierdie is ’n nuwe seisoen vir Suid-Afrika. Net soos wat inheemse bome ’n belangrike rol speel ten opsigte van die land se welstand, simboliseer dit ook die land se mense. Ten einde Suid-Afrika te maak werk, moet ons almal ons deel doen. Alle bome werk saam en dít maak dat die ekosisteem werk. Ons sal hier woon en hierdie land aanhou opbou sodat almal kan floreer,” sê De Klerk.

Daar word vanjaar op twee bome gefokus: ’n algemene boom en ’n skaars boom. Die algemene boom is die Kaapse essenhout (Ekebergia capensis); die skaars boom die welbekende kremetart (Adansonia digitata).

 “AfriForum moedig gemeenskappe oor die land aan om aan boomplantmaand deel te neem, die program te versprei en ’n verandering aan die toekoms aan te bring,” sluit De Klerk af.

SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings