AfriForum-boomplantmaand lei nuwe seisoen in


Die burgerregte-organisasie AfriForum het Boomplantdag (1 September) en boomplantmaand (waar die hele September aan die plant van bome gewy word) afgeskop deur ‘n bosvlier (Nuxia floribunda) in die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument te plant.
Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is dié inisiatief deel van AfriForum se ideaal om ‘n volhoubare toekoms vir die volgende geslagte te verseker.
‘n Studie wat in New York in die VSA gedoen is, bewys dat die toevoeging van ‘n bykomende 343 bome per vierkante kilometer die voorkoms van asma met tot soveel 29% verlaag by kinders tussen die ouderdomme van vier en vyf jaar.

“Bome is ‘n erflating; dit is ‘n belangrike deel van die ekosisteem en ‘n natuurlike hulpbron waarsonder niks of niemand in staat sou wees om te oorleef nie. Dit verskaf immers suurstof, skaduwee en voedsel aan mens en dier. Tradisioneel vier mense regoor Suid-Afrika Boomplantdag op 1 September, maar vir maksimum impak wy AfriForum die hele Septembermaand aan die plant van bome met 130 van ons takke wat landswyd meer as 1 000 bome gaan plant,” vertel Boshoff.
Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte van die FAK, sê dat hierdie projek nie net ‘n groen voetspoor in Suid-Afrika laat nie, maar dat Afrikaans ook opnuut hierdeur geanker word. “Die bosvlier wat in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin geplant is, bied die geleentheid vir ons nageslag om in die skadu van Afrikaans te ontspan, groei en ontwikkel.”

Vanjaar word daar op twee bome tydens AfriForum-boomplantmaand gefokus:
Die algemene boom vir 2017:

Botaniese naam Afrikaans Engels
Ziziphus mucronata Blinkblaar-wag-‘n-bietjie Hairy buffalo thorn

Die skaars boom vir 2017:

Botaniese naam Afrikaans Engels
Euclea pseudebenus Ebbeboom Ebony tree

 
Dit is egter nie nodig om dié spesifieke bome te plant nie en mense kan enige boom plant wat inheems tot hul spesifieke gebied is.

“AfriForum wil ons lede, skole, kerke en die gemeenskap aanspoor om landswyd aan boomplantmaand deel te neem. Hierdie is ‘n nuwe seisoen vir Suid-Afrika, en net soos wat inheemse bome ‘n belangrike rol ten opsigte van die land se welstand speel, simboliseer dit ook die land se mense en elkeen se unieke bydrae om van die land ‘n sukses te maak sodat almal kan floreer,” meen Boshoff.

SMS jou naam na 45354 (R1) om ‘n boom vir AfriForum-boomplantmaand te skenk.

Soortgelyke plasings