|

AfriForum bied binnekort veiligheidsberaad aan

In die lig van ’n ongekende reeks plaasaanvalle wat gemeenskappe landwyd sedert die begin van die jaar geruk het, het die burgerregte-organisasie AfriForum vandag aangekondig dat hy binnekort ʼn veiligheidsberaad sal aanbied.

Dít volg nadat Sue Howarth (64) en haar man, Robert Lynn (66), vroeg gisteroggend op ’n plaas naby Dullstroom in Mpumalanga gemartel en bebloed in die donker langs die pad afgelaai is.

Volgens David Spohr, voorsitter van AfriForum se Belfast-tak, is Sue “onherkenbaar” geslaan en tans in ’n koma in die waakeenheid van die Life Midmed-hospitaal in Middelburg. Robert word tans in dieselfde hospitaal behandel vir steekwonde aan die rug en bene.

Luidens mediaberigte is Robert deur ʼn motoris gevind nadat hy homself losgewikkel en tot by ʼn teerpad gestrompel het. Sue is daarna kaal en op haar maag in die veld langs die pad na Belfast gekry met ’n swart plastieksak om haar nek.

Volgens Spohr was sy besig om te versmoor toe sy gevind is.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, was gistermiddag nog nie bewus van die voorval nie. Die Heritage Protection Group, ’n misdaadbestrydingsorganisasie, is egter tans op die spoor van die drie mans wat in die egpaar se bakkie gevlug het.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het na afloop van die aanval opnuut ʼn versoek aan gemeenskappe gerig om by hulle plaaslike buurt- of plaaswagte aan te sluit.

“Talle mense vra vir ons wat gedoen kan word om ons land weer veilig te maak. Ons moet egter self begin beveilig binne die wetlike raamwerk. Buurt- en plaaswagte is bewese konsepte wat misdaad saam met die polisie en privaat sekuriteit kan hokslaan,” meen hy.

Cameron sê voorts dat AfriForum eersdaags die datum van die AfriForum 911-veiligheidsberaad bekend sal maak. “Ons sal ook binnekort in die aanloop tot die veiligheidsberaad meer besonderhede oor ons aangepaste nasionale veiligheidstrategie bekend maak.”

 

Soortgelyke plasings