|

AfriForum bevraagteken goedkeuring van Tshwane-begroting

Die burgerregteorganisasie AfriForum bevraagteken die goedkeuring van die Tshwane Metro se begroting vir die 2020/2021-boekjaar aangesien slegs die munisipale raad bevoeg is om ’n begroting goed te keur – en nie die administrateur nie. Dié raad is vroeër vanjaar ontbind en onder administrasie geplaas nadat raadslede geweier het om vergaderings oor die aanstelling van die nuwe munisipale bestuurder by te woon.

Wanneer ’n munisipaliteit onder administrasie geplaas word, is dit die provinsiale uitvoerende komitee se verantwoordelikheid om ’n tussentydse begroting goed te keur totdat ’n nuwe raad verkies is. Die nuutverkose munisipale raad sal dan die finale begroting vir die boekjaar moet goedkeur.

Volgens AfriForum het die administrateur in die uitvoering van sy mandaat nie volgens die wet opgetree deur die begroting goed te keur nie. AfriForum het op 7 Julie 2020 ’n skrywe aan die Gautengse Premier en ander rolspelers gerig, waarin AfriForum versoek dat die provinsiale uitvoerende komitee verseker dat die administrateur nie buite sy magte optree nie en dat die komitee self ’n tussentydse begroting goedkeur.

“AfriForum bevraagteken die proses wat gevolg is om die begroting goed te keur. Daar moet gevra word of die administrateur in belang van ’n politieke party of in belang van inwoners van die Metro optree,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die Tshwane Metro het vandeesweek aangekondig dat die administrateur besig is om die munisipale bestuurder se pos te vul.

“AfriForum is tans besig om die finale aanstelling van die nuwe munisipale bestuurder te bestudeer. Ons verwys dié aangeleentheid ook na ons regsafdeling om te verseker dat die regte proses gevolg is,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

AfriForum sal aanhou om druk toe te pas om te verseker dat staatsinstansies volgens die wet en in belang van Suid-Afrikaanse burgers optree.

Soortgelyke plasings