AfriForum bevorder padveiligheid in Phalaborwa


AfriForum se Phalaborwa-tak het op 18 April 2019 20 stoptekens aan die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit se paaie-afdeling oorhandig met die doel om padveiligheid in die dorp op te skerp. Dié stoptekens gaan regoor die dorp opgerig word waar stoptekens verbleik, vermis of deur vandalisme beskadig is.

Hierdie aksie het gevolg nadat die tak opgemerk het dat talle stoptekens in die dorp vermis is of glad nie meer sigbaar is nie. AfriForum het die borde aangekoop en gaan dit in samewerking met die munisipaliteit se paaie-afdeling oprig om padgebruikers te beveilig.
Volgens Cobus Louw, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak, is dié aksie ’n goeie voorbeeld van gemeenskapsprobleme wat opgelos kan word deur goeie samewerking tussen die gemeenskap en die munisipaliteit.

“Ons is dankbaar vir goeie samewerking tussen die twee rolspelers en sal voortdurend daarop bou om die verhouding te versterk. AfriForum sal aanhou om projekte in belang van die gemeenskap te dryf.”

AfriForum moedig die gemeenskap aan om deel te vorm van en aktief betrokke te raak by soortgelyke aksies wat die tak in die dorp gaan dryf. SMS jou naam na 45340 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings