|

AfriForum bevorder Afrikaans in die sakewêreld

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag  ʼn nuwe projek, Afrikaans-Vriendelik, bekendgestel wat Afrikaans in die sakewêreld sal bevorder deur erkenning en gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te gee.

“Afrikaans is meer as net ons taal, dit is deel van ons identiteit. Daarom wil ons deur Afrikaans-Vriendelik ons taal  op ‘n positiewe en proaktiewe manier bevorder in die sakewêreld,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in Pretoria gesê.

Dié projek behels ook die deurlopende uitbou  van ‘n databasis van ondernemings wat in Afrikaans dienste lewer.

Volgens Sanderien van der Walt, koördineerder van die Afrikaans-Vriendelik-veldtog, kan enige lid van die publiek toegang tot die databasis verkry wanneer hulle na Afrikaanse dienste of produkte op soek is, of ondernemings wat Afrikaans bevorder, vir insluiting wil nomineer.

Volgens AfriForum se navorsing is sowat 30% van die Suid-Afrikaanse sakewêreld Afrikaans. Die burregte-organisasie wil deur die projek vir daardie 30% ʼn platform skep waar hulle gemaklik kan kommunikeer met hulle kliënte in die taal wat hulle almal die beste verstaan en waarin hulle hulleself die duidelikste kan uitdruk.

“Die webtuiste gradeer die ondernemings op grond van al die wyses waarop hulle Afrikaans gebruik en uitbou en is nie net vir 100% Afrikaanse ondernemings nie, maar vir almal wat hulle dienste of produkte in Afrikaans aanbied,” het van der Walt gesê.

“Dié platform is nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemings regoor Suid-Afrika nie, maar tot voordeel van Afrikaans.”

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en aanbieder van die nuus-aktualiteitsprogram Insig op kykNet, het by die geleentheid gesê dat Afrikaans onderbenut word in die sakewêreld. Hy het die belangrike verband tussen taal en dienslewering in die land beklemtoon.

“Jy kan betalende kliënte soveel gelukkiger maak as jy onverwags hulle behoefte om in hulle taal bedien te word, kan antisipeer.” Hy meen dat sakeondernemings hulself beter kan onderskei deur al hoe meer kliënte in hul moedertaal te bedien.

“Dit het niks met ons regte as Afrikaanssprekendes uit te waai nie, dit maak egter sakesin. Maar sakeondernemings kan veral Afrikaanse harte, wat baie lojaal is, makliker wen deur hul dienste ‘n bietjie meer persoonlik te maak en mense in hul hartstaal te bedien.”

Henk Schalekamp, voorsitter en direkteur van verskeie maatskappye in die Solidariteit Beweging, het gesê dat dit belangrik is vir Afrikaanse sakeondernemings om mededingend te wees juis deur hul uniekheid. Hy het spesifiek verwys na die suksesvolle versekeringsmaatskappy, Virseker, wat hul dienste in Afrikaans lewer.

“As ons vandag kies om Afrikaans te bevorder in die sakewêreld, hoef ons nie om verskoning daarvoor te vra nie. Afrikaans moet egter nie reageer  met ‘n weerstandsbeweging nie, maar eerder met vertroue aanspraak maak op sy plek in die ekonomie. Afrikaans kan in die kantoor, per e-pos, per kontrak en deur produkte en dienste sy plek in die mark volstaan.”

Hy meen egter dat daar van Afrikaanssprekende sakelui selfvertroue en deursettingsvermoë geverg word. “Afrikaans is ‘n draer van geweldige kulturele energie en daardie energie moet juis gebruik word om die sakewêreld meer doeltreffend te maak.”

Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en aanbieder van Ontbytsake het gesê  Afrikaanssprekendes het meer sukses in die sakewêreld bereik na 1994. “Afrikaanssprekende mense is suksesvol en kan baie goed verder vaar in die besigheidswêreld.

Hy het gesê sy gunsteling-ekonoom, Marco Paulsen, het ’n teorie wat relevant is vir Afrikaanssprekendes in die sakwêreld.

“Volgens Paulsen is kleiner groepies mense wat spesifieke ideale en doelwitte deel, beter in staat om hulself te organiseer en sukses te bereik. Ek dink ons as Afrikaners is ‘n goeie voorbeeld van hierdie teorie.”

Enigiemand wat ’n onderneming wil nomineer, kan vir Sanderien van der Walt kontak by sanderien@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings