AfriForum bevel finaal gemaak – Soshanguve-betreders sal eersdaags verwyder word


Die tussentydse hofbevel wat AfriForum ten behoewe van dr. Motodi Maserumule op 31 Augustus 2018 bekom het, is vandag in die Noord-Gautengse hoë hof bekragtig en finaal gemaak. Die bevel behels dat betreders wat tans ’n boer se plaas buite Pretoria onregmatig beset deur die balju verwyder moet word en dat die SAPD verplig is om die balju met sodanige verwydering by te staan.
Hoewel die betreders ’n prokureur opdrag gegee het om die aansoek teen te staan, is geen opponerende stukke ontvang nie, en het nóg die betreders nóg ’n verteenwoordiger van die betreders die hofverrigtinge bygewoon. ’n Vergadering met al die betrokke partye om die verwydering te laat geskied, het reeds plaasgevind en die betreders sal eersdaags verwyder word.

“AfriForum sal aanhou om die proses te moniteer en om Maserumule by te staan totdat die betreders verwyder is. Ons sal onverpoosd by soortgelyke aksies en aansoeke betrokke wees om seker te maak dat die verantwoordelike persone en liggame, waaronder die SAPD, tot verantwoording geroep word indien hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Grondeienaars word gemaan om hul grond te omhein en alles in hul vermoë te doen om potensiële besetters te ontmoedig om hul grond te betree.

“Grondeienaars moet hulself van hul regte vergewis en gebeurlikheidsplanne in plek hê om enige poging tot grondgrype in die kiem te smoor,” sluit Cameron af.

Lees blitsgids oor grondgrype hier: Grondgrype_A4_Afr.

Soortgelyke plasings