AfriForum beveilig Laerskool Schweizer-Reneke


Ná die onaangename gebeure wat die afgelope twee weke by Laerskool Schweizer-Reneke afgespeel het, het die gemeenskap AfriForum genader om hulle te help om dié skool te beveilig. AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het op Maandag 14 Januarie 2019 beheer van die skool se veiligheid geneem en ook ’n span van High-Risk Sekuriteit vir ondersteuning betrek.

Die AfriForum-gemeenskapsveiligheidspan het groot lof vir die optrede en bystand van ouers en ander lede van die Schweizer-Reneke-gemeenskap. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Onderwys was egter glad nie behulpsaam nie en het boonop die veiligheidsmaatreëls probeer kortwiek. Ten spyte van dié teëkanting is die situasie ontlont, en teen verlede Donderdag kon die skool se hekke weer oop staan.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, was dit voordelig om eksterne veiligheidsmense, wat nie emosioneel by die situasie betrokke was nie, te betrek: “AfriForum en High-Risk se spanne het uitstekende ondervinding en kon die situasie goed lees en gevolglik optree. Hulle het ook leiding aan die gemeenskap gebied. Ons is baie trots op hierdie span en die goeie werk wat hulle doen.”
AfriForum het die gemeenskap verder gehelp deur berading vir die betrokkenes te reël. “Daar is heelwat mense, veral kinders, wat erge trauma beleef het en AfriForum wil ook graag daarvoor ondersteuning bied,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings