AfriForum beveilig gevaarlike aansluiting

AfriForum se Sasolburg-tak het die afgelope naweek ’n selfdoenaksie gehou om die gevaarlike Minnaarstraat- en Wonderfontein-aansluiting meer sigbaar te maak.

Die tak het padtekens vervang, strepe oorgeverf, die stopteken duidelik gemerk en katogies aangebring.

Volgens André Vallentgoed, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-buurtwag, het die buurtwag in September 2018 ingetree nadat verskeie ongelukke, waarvan sommige noodlottig was, daar plaasgevind het. “Sedert die projek verlede jaar aangepak is, was daar slegs een noodlottige ongeluk waarvan ons bewus is.”

Johan Cooks, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak, sê die instandhouding van paaie, strepe en stoptekens is baie belangrik en dat die munisipaliteit versuim om die nodige instandhoudingswerk te doen. “Hulle dobbel dus met padgebruikers se lewens deur nie paaie duidelik te merk nie. Daar waar ons kan sal AfriForum help om die werk gedoen te kry deur self in te spring en herstelwerk te verrig.”

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by die tak se selfdoenaksies en sodoende ’n verskil in hul gemeenskap te maak.

Raak deel van dié inisiatief: SMS “Sasolburg” na 45340 (R1) om by die tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings