|

AfriForum betwyfel regering se erns oor misdaadbekamping ná beoogde begrotingsbesnoeiing

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ernstige kommer uitgespreek oor mediaberigte waarin beweer word dat die ANC-regering beoog om die begroting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met R6 miljard te besnoei. Die beoogde begrotingsbesnoeiing, saam die volgende verwikkelings, dui aan dat die Suid-Afrikaanse regering nie die veiligheid van sy burgers ernstig opneem nie:

  • Die voorgestelde wysiging van die PSIRA-wetgewing om die tipes wapens wat privaat sekuriteitsbeamptes mag gebruik (indien wel), te verminder.
  • Die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Wes-Kaap, wat bevestig dat die SAPD nie daarin slaag om die Kaapse Vlakte te stabiliseer nie.
  • Mediaberigte dat die einste SANW op die rand van ineenstorting is.
  • Premier Winde se opmerkings oor die tekort aan personeel en hulpbronne by Wes-Kaapse polisiestasies.
  • Berigte in 2018 oor ongeletterdheid in die SAPD.
  • Verskeie aanvalle op en diefstal van vuurwapens by polisiestasies, soos Ngcobo in Februarie 2018, Eden Park en Belville-Suid in Junie 2018, Kareedouw in Augustus 2018 en Middledrift ’n paar dae gelede.

“Hoe is gewone burgers veronderstel om te glo dat die staat ernstig is om hulle en hul gesinne te beskerm, as die mislukking van die polisie en die staat so duidelik is vir almal om te sien? Die President praat oor die halvering van geweldsmisdaad binne die volgende 10 jaar, maar as hy en sy regering op die huidige pad voortgaan, sal misdaadvlakke eerder verdubbel. Trouens, ons vermoed dat die moordsyfer binne die volgende paar jaar tot meer as 23 000 per jaar sal styg,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum doen ’n beroep op die President en sy regering om hierdie beoogde begrotingsbesnoeiings om te swaai en die polisiebegroting eerder met R6 miljard te verhoog, in die hoop om polisiesigbaarheid werklik te verhoog, misdaad te verminder en ‘n veiliger Suid-Afrika te skep. ’n Begrotingstoename moet egter gepaard gaan met werklike meetbare vereistes vir polisieprestasie ten einde te voorkom dat nog fondse vermors word.

“Intussen moet Suid-Afrikaners aanvaar dat die SAPD en die regering in tye van nood nie tot hulle redding kan en sal kom nie, en hulle moet dit eerder oorweeg om plaaslike sekuriteitsnetwerke te vorm of by buurtwagte soos dié van AfriForum aan te sluit ten einde hulself en hul gemeenskappe te help,” sê Cameron.

Soortgelyke plasings