|

AfriForum betuig simpatie ná die afsterwe van dr. Danny Titus

AfriForum betuig sy meegevoel aan die kinders, familie en kollegas van dr. Danny Titus, wat op Vrydag 18 September 2020 oorlede is.

Dr. Titus het diep spore op die terrein van taal- en gemeenskapsbevordering getrap. Hy sal onder meer onthou word vir sy kommentaar oor sake van die dag, sy insette vir die bemagtiging van die bruin gemeenskap en sy bydrae tot die uitbou van Afrikaans.

Terwyl hy as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedien het, het hy ’n omvattende ondersoek gelei na plaasaanvalle, wat deur AfriForum aangevra is. Ná afloop van ’n reeks landwye verhore het die SAMRK ’n omvattende verslag met aanbevelings in 2015 vrygestel en dit ook onder die aandag van die parlement en alle betrokke staatsdepartemente gebring. Dr. Titus het met die vrystel van die verslag ernstige kommer oor die veiligheid van plaasbewoners uitgespreek en verklaar dat die regering en politici baie sterker teen plaasaanvalle behoort op te tree.

Hy was ook diep bekommerd oor korrupsie en die verval van die staat en het dikwels op openbare platforms en in die media teen vergrype in dié verband standpunt ingeneem.

“Danny was iemand wat nie van kontroversie weggeskram het as dit by beginselsake kom nie. Hy was iemand met ’n groot hart vir sy gesin, godsdiens, taal en kultuur. Hy sal gemis word en ons bid sy geliefdes in dié tyd troos toe,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Soortgelyke plasings