|

AfriForum betree nuwe fase met 200 000 aktiewe lede

Deur Kallie Kriel

Die burgerregte-organisasie AfriForum se aktiewe ledetal het pas die 200 000-kerf verbygesteek. Dié organisasie se ledetal het in Januarie 2010 op slegs 8 000 gestaan en het dus oor die afgelope agt jaar eksponensieel gegroei.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beteken die sterk groei in ledetal dat AfriForum ’n nuwe fase kan betree waartydens die organisasie sy werksaamhede en veldtogte nog verder kan uitbrei. “Die steun van 200 000 lede maak dit onder meer nou moontlik om adv. Gerrie Nel se span by AfriForum se privaat vervolgingseenheid verder uit te brei om meer sake te kan aanpak. AfriForum is nou ook in staat om sy netwerk van sowat 100 AfriForum-buurtwagte en ander -selfdoenaksies in plaaslike gemeenskappe verder te vergroot, terwyl dié organisasie se nasionale en internasionale veldtogte op ’n nóg groter skaal aangepak kan word,” sê hy.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum se veldtogte deur lede moontlik gemaak word en dat elkeen van die 200 000 lede dus trots kan wees op hul onderskeie rolle in die suksesse wat AfriForum reeds behaal het en ook in die toekoms gaan behaal. “AfriForum se krag lê in sy lede en daarom bedank AfriForum elkeen van sy lede vir hulle volgehoue ondersteuning,” sê Kriel.

Volgens Kriel beteken die feit dat die regering van wanadministrasie en korrupsie deurspek is dat die vestiging van sterk burgerlike instellings al noodsaakliker is om te verseker dat die regering verantwoordbaar gehou word. “200 000 lede gee aan AfriForum die nodige spierkrag om hierdie rol met groter doeltreffendheid te vervul, en die steeds groeiende ledetal sal verseker dat hierdie spierkrag in die toekoms selfs nóg groter gaan wees,” sê Kriel.

 

Soortgelyke plasings