AfriForum beteken PAIA-aansoek op departement van omgewingsake oor leeugeraamtes


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wet no. 2 van 2000) (PAIA) gebring om die departement van omgewingsake (DVO) te verplig om inligting bekend te maak oor die besluit om die uitvoerkwota van leeugeraamtes te verhoog.
Dít volg nadat die DVO op 16 Julie 2018 bekend gemaak het dat die uitvoerkwota van leeugeraamtes na aanleiding van hul navorsing tot 1 500 per jaar verhoog word. In 2017 was die uitvoerkwota slegs 800 leeugeraamtes per jaar.
AfriForum het aansoek gedoen om onder meer die volgende inligting te bekom:

  1. Volledige afskrifte van die navorsingsprojekte waarop die besluit gebaseer is om uitvoerkwotas te verhoog
  2. Inligting oor waarheen die leeugeraamtes uitgevoer word, asook waaraan die geld toegewys word wat daaruit gegenereer word
  3. Bewyse dat die DVO die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Fauna en Flora (CITES) van hul besluit in kennis gestel het
  4. Inligting oor hoe die uitvoer van leeugeraamtes gereguleer word, asook rekords van die oorsprong van die beendere
  5. Bewyse dat die handel in leeugeraamtes tot die bewaring van leeus bydra.

“AfriForum het van die DVO se besluit kennis geneem en sal na aanleiding van die gevraagde inligting besluit wat die pad vorentoe is. Ons is bekommerd oor die bewaring van al Suid-Afrika se unieke en bedreigde spesies. Die staat moet dit prioritiseer. ’n Oop en deursigtige proses wat op wetenskaplike bewyse en ten bate van bewaring gebaseer is, moet in so ’n geval gevolg word,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van omgewingsake.

Soortgelyke plasings