AfriForum beteken hofaansoek op Vhembe Distriksmunisipaliteit


Die AfriForum-tak in Louis Trichardt het vandag ’n hofaansoek om minagting van ’n hofbevel op die Vhembe Distriksmunisipaliteit, asook die munisipale bestuurder beteken. Die hofaansoek is voorlopig vir 28 Maart 2017 geskeduleer om sodoende ’n bevel toe te staan wat verklaar dat die munisipaliteit nie aan die Noord-Gautengse hoë hof se bevele van 2 Oktober 2012 en 16 Mei 2013 voldoen het nie.
Die aansoek is geloods omdat die munisipaliteit misluk het om Louis Trichardt se boorgatinfrastruktuur te onderhou en te beveilig. Voldoening aan dié bevele behels onder meer dat die munisipaliteit die dorp se watertoevoer moet herstel, die boorgatprojek weer op die been moet bring, asook die boorgate teen vandale moet beveilig. Die munisipaliteit sal ook kennis moet gee oor wanneer die gemeenskap sonder water gaan wees en vir hoe lank só ’n droogtetydperk sal duur.

“Toegang tot water is ’n basiese grondwetlike reg en belastingbetalers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie – dit is onaanvaarbaar,” sê Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo.

Indien die hof op 28 Maart 2017 ’n bevel toestaan en die munisipaliteit nie daaraan voldoen nie, sal AfriForum nie net vir die skuldigbevinding van die burgemeester vra nie, maar ook dat die munisipale bestuurder aan minagting van ’n hofbevel skuldig bevind word en gevolglik eis dat albei tronkstraf van 60 dae opgelê word.

“Desperate inwoners van Louis Trichardt vestig al hulle hoop op hierdie hofsaak en dat dit weer volle watertoevoer na die dorp sal herstel. Die distriksmunisipaliteit het talle geleenthede gehad om ’n eenvoudige boorgatplan uit te voer wat die waterkrisis sou stop, sonder enige aksie. Hierdie hofsaak se uitkoms moet implementering afdwing,” sê Wally Schultz, voorsitter van die AfriForum-tak in Louis Trichardt.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Tak” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings