AfriForum bestudeer uitspraak in skolegodsdienssaak – gemeenskap se reg tot die keuse van ‘n skool se etos moet beskerm word


AfriForum meen die uitspraak wat vandag in die Suid-Gautengse hoër hof in die sogenaamde skolegodsdienssaak gelewer is, moet in detail bestudeer word om te besluit oor die regspad vorentoe. AfriForum voel ook sterk oor die beginsel wat dié uitspraak beklemtoon, naamlik dat ouers bestaande kanale moet gebruik om diskriminasie teen hulle kinders op godsdienstige gronde te keer. Terselfdertyd bly AfriForum by die standpunt dat ‘n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdiensetos van ‘n skool.
Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwyssake, word ouerbeheerliggame van openbare skole demokraties verkies. Sou hulle op ‘n bepaalde godsdienstige etos vir ‘n skool besluit, moet dit uitvoerbaar wees sonder om ander leerders uit te sluit. Soos duisende ouers aan AfriForum bevestig het, is dit dan ook tans die geval by openbare skole. Die mate waarin hierdie reg deur dié uitspraak aangetas word, sal bepaal watter verdere regsaksie die partye in die saak sal onderneem.
Die saak tussen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) en die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie wat in Mei 2017 aangehoor is, het gevolg nadat ses skole, naamlik Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium aan die einde van 2014 deur die laasgenoemde organisasie weens hulle godsdienstige etos voor die hof gedaag is.
Anti-christen fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig om godsdiens uit skole te probeer weer. Tóé reeds het AfriForum sterk standpunt ingeneem en gesê dat skole teen regsaksies van dié aard ondersteun sal word. FEDSAS het hierdie ses skole in die saak verteenwoordig, met AfriForum wat die regskoste van sowat R5,8 miljoen dra.

AfriForum is bekommerd oor pogings van organisasies soos die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, asook die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe om godsdiensbeoefening te reguleer. “Sou enkelinge misbruik van godsdiens maak, moet daar spesifiek teen hulle opgetree word. Dit kan egter nie as ’n verskoning gebruik word om die res van die gemeenskap van hulle regte te ontsê nie,” verklaar Bloem.

Soortgelyke plasings