AfriForum besorg oor polisie-onvermoë om onrusgeweld in Johannesburg-middestad te beheer

Die burgerregteorganisasie AfriForum spreek sy kommer uit oor berigte dat die SAPD sonder enige inhegtenisnemings uit die Johannesburgse middestad onttrek het om bloedvergieting te voorkom. Die SAPD het in wese daarom bevestig dat hul taktieke om burgerlike onrus en oproere daartoe beperk is om óf met ekstreme krag te reageer, óf om glad nie te reageer nie.

“Dit bevestig wat ons nog altyd vermoed het en waarteen ons geruime tyd al waarsku: die SAPD is onderbeman, swak toegerus en onvoldoende opgelei om op ’n verskeidenheid maniere teen burgerlike onrus en oproere op te tree,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Terwyl ander lande al meer van die gebruik van krag in die vorm van gewere en rubber koeëls wegbeweeg, steun die SAPD steeds baie swaar op dié soort taktiek om vir hul tekort aan taktiese ontwikkeling te vergoed. Ander polisiedienste van oor die wêreld ontmoet oproermakers met gelyke of groter getalle, moniteer oproeriges en arresteer leiers om enige onrus te onderdruk.

AfriForum versoek die SAPD ferm om die nodige verandering in taktiek, opleiding, toerusting en personeel teweeg te bring. Dit sal help om hierdie beeld van wetteloosheid in die toekoms te voorkom as die polisie in staat is om op ’n verskeidenheid maniere op onrus te kan reageer sonder om uit ’n situasie te onttrek om fisieke konforntasie te vermy. Beloftes van reaktiewe optrede slaag nie daarin om die beeld van ’n vlugtende polisiemag vinnig en doeltreffend uit te wis nie.

Cameron sluit af dat die polisie op grondvlak nie die skuld vir die genoemde uitdagings kan dra nie, want politieke inmenging en swak leierskap is die twee hoofredes waarom die polisiediens tans kruppel is.

Soortgelyke plasings