AfriForum bereik skikkingsooreenkoms met Vhembe Distriksmunisipaliteit oor water


Die burgerregtewaghond AfriForum het gister ’n skikking met die Vhembe Distriksmunisipaliteit bereik rakende die afgelope jare se waterkrisis in Louis Trichardt. AfriForum het ’n hofaansoek in die Noord-Gautengse hoë hof gebring om dié munisipaliteit aanspreeklik te hou vir ontoereikende watervoorsiening aan die gemeenskap. Die partye het egter geskik voordat die aansoek deur die hof aangehoor is, en die skikking is deur die hof bekragtig.
Die munisipaliteit het ’n aksieplan aan AfriForum voorgelê wat verduidelik dat daar beplan word om ses van die boorgate te herstel. Dié boorgate voorsien op ’n deurlopende basis water aan verbruikers. Die munisipaliteit is ook besig om nuwe kontrakteurs aan te stel om ’n boorgatprojek te voltooi.
AfriForum sal ook verteenwoordigers op die geïntegreerde-ontwikkelingsplanforum hê om toe te sien dat projekte suksesvol afgehandel word. Vhembe het verder onderneem om gemeenskapslede van die watersituasie in Louis Trichardt op hoogte te hou.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder  vir Limpopo, is dié skikking ’n positiewe uitkoms vir die gemeenskap van Louis Trichardt en berus dit op goeie samewerking tussen AfriForum en die munisipaliteit.

“AfriForum sal die vordering van die boorgatprojek egter moniteer om te verseker dat die munisipaliteit wel aan die bevel gehoor gee. Dit is ons plig as burgerregte-organisasie en gemeenskap om te verseker dat die munisipaliteit wel die dienste lewer waarvoor die gemeenskap betaal. Ons sal voortdurend druk op die munisipaliteit plaas indien die bevel nie gehoorsaam word nie,” sluit Grobbelaar af.

Soortgelyke plasings