|

AfriForum beplan regstappe teen Vhembe munisipaliteit oor geplunderde boorgate

Die AfriForum-tak in Louis Trichardt beoog regstappe teen die Vhembe plaaslike munisipaliteit nadat dit onder die tak se aandag gekom het dat die dorp se munisipale boorgate se infrastruktuur, wat reeds wanfunksioneel was, onlangs deur boewe geplunder is.

Dit volg nadat die burgerregte-organisasie die munisipaliteit herhaaldelik versoek het om die boorgate se infrastruktuur in stand te hou, op te gradeer, te herstel, die sekuriteit op te skerp en toegangsbeheer toe te pas.

Volgens Wally Schultz, voorsitter van AfriForum se Louis Trichardt-tak, het dié versoeke egter op dowe ore geval.

Hy meen die munisipaliteit het versuim om die sekuriteitsmaatskappy te betaal wat aangestel is om toesig te hou by die munisipale boorgate. Gevolglik is die boorgate gereeld geplunder, toerusting gesteel en die infrastruktuur verder beskadig.

Die Louis Trichardt-tak het egter onlangs die enigste boorgat, wat gekoppel is aan ʼn dorpsreservoir, geannekseer en omhein om dit te beskerm teen verdere beskadiging.

“Inwoners kan moontlik binnekort nóg ’n waterkrisis in die gesig staar indien daar nie dringend ingegryp word nie aangesien munisipale boorgate die dorp se enigste alternatiewe waterbron is,” meen Schultz.

Soortgelyke plasings