--> -->
Spyskaart +

AfriForum bekommerd oor water aan steelkoolmyne in die Waterberg

Mei 27, 2013 deur afriministrator

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor ʼn voorgestelde projek van die departement van waterwese om water aan steenkoolmyne in die Waterberg te voorsien.

Volgens Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, sal die program die waterskaarste in die gebied verlig, maar dit kan ʼn geweldige impak op die omgewing hê. “Die regering het beplan om ʼn 70 km-pyplyn te bou om water aan die Waterberg-gebied te voorsien. Ons erken hierdie pogings om die voorsieningskapasiteit uit te brei, maar ons is bekommerd oor besoedeling, aangesien steenkoolmyne ’n groot bron van suurmynwater is,” sê Kleynhans.

“Ons weet nie waarheen al die ekstra afvalwater gaan nie. Myne onderneem altyd om afvalwater te suiwer tot dit aan ‘n aanvaarbare standaard voldoen, maar hulle doen selde hulle beloftes gestand.”

Die myne is in die Waterberg-gebied, wat ongeveer 75 miljard ton steenkool bevat, wat volgens Eskom 40 persent van Suid-Afrika se hulpbronne is. “Indien die departement van omgewing- en watersake nie hierdie projek behoorlik bestuur nie, sal verskeie omgewingsensitiewe bronne, insluitend die Waterberg en die Nylsvley-vleilandgebied, skade ly.

Gemeenskappe in die Waterberg-distrik is bekommerd dat die Waterberg-gebied die nuwe Witbank sal word,” het Morné Mostert, organiseerder vir AfriForum in die Limpopo Provinsie gesê.

AfriForum sal steeds die situasie rondom waterkwessies in die land monitor en optree teen diegene wat onverantwoordelik te werk gaan.

Om by jou AfriForum-tak aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 34188. 50c/SMS.