AfriForum bekommerd oor toekoms van Goodnow-saal


AfriForum voeg hul stem by dié van die erfenisbewaringsgroep Vriende van Wellington Museum (VWM) in ’n versoek dat die historiese Goodnow-saal dringend gerestoureer en beskerm moet word. 
Dié gebou is op die Wellingtonse kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) geleë. Dit is in 1886 opgerig en was vir dekades lank ’n sentrum van musiek- en kultuurlewe in die dorp. Uitgebreide restourasiewerk het dit in 1996 tot sy eertydse glorie herstel. Op 26 Oktober 2016 is dit tydens studenteprotesaksies aan die brand gesteek, maar nog nie weer gerestoureer nie.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met erfenissake, is die gesloer met die restourasie van die gebou kommerwekkend. Wat egter meer gevaarligte oor die toekoms daarvan laat flikker, is dat daar nog geen toereikende beskermingsmaatreëls teen reënskade aan die struktuur ingestel is nie. Gevolglik is van die vertrekke se houtvloere onder water en die steenwerk ook deurweek, wat beteken dat die skade aan die struktuur meer onomkeerbaar en restourasie al hoe duurder word.

“AfriForum se versoek aan die KSUT om inligting oor die gesloer te bekom en ons aanbod om hulp is kortaf beantwoord met die aangehegte e-pos wat aandui dat die situasie onder beheer is, terwyl die VWM só bekommerd oor die situasie is dat hulle vandag ’n mediabesoek aan die terrein gereël het,” sê Bailey.

Intussen het AfriForum die aanbod van hulp aan KSUT herhaal.

“Die ideale oplossing is dat die KSUT se personeel, studente, die gemeenskap van Wellington en bewaringskundiges almal moet saamwerk om hierdie onvervangbare kultuurhistoriese baken te red. Ons doen ’n beroep op die universiteit om dringend aandag aan die saak te skenk, en op alle belanghebbendes wat betrokke wil raak om VWM of AfriForum te kontak,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings