|

AfriForum bekommerd oor onwettige boerdery in Papegaaiberg Natuurreservaat

AfriForum se Stellenbosch-tak het met kommer kennis geneem van die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit se voorneme om ’n gedeelte van die Papegaaiberg Natuurreservaat af te kamp, te hersoneer en aan diegene te skenk wat tans onwettige boerderyaktiwiteite daarop bedryf. Onwettige boerderyaktiwiteite word al vir etlike jare onwettig in dié reservaat bedryf. AfriForum se Stellenbosch-tak het vandag ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin die organisasie sy ontevredenheid oor die situasie uitspreek en het ook dringende samesprekings na afloop van die staat van inperking versoek om alternatiewe te vind.

Gemeenskapslede het die probleem al telkemale by die munisipaliteit aangemeld, maar die munisipaliteit verkies egter om die situasie te ignoreer.

AfriForum is van mening dat die munisipaliteit se voorneme om ’n gedeelte van die reservaat aan diegene wat tans onwettige boerderyaktiwiteite daarop bedryf, te skenk, ’n totale bespotting maak van die streng maatreëls wat ingestel is om die biodiverse natuurstelsel van die Papegaaiberg Natuurreservaat te beskerm.

“Indien die munisipaliteit sou voortgaan om hierdie besluit te implementeer, beteken dit inderwaarheid dat mense vir hul onwettige optrede ‘beloon’ word. As verantwoordelike landsburgers en inwoners van Stellenbosch kan ons nie toelaat dat hierdie gevaarlike presedent geskep word nie,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die baie seldsame plant Aristea lugens, wat endemies aan die Wes-Kaap is, kom ook in die reservaat voor. Hierdie plant verskyn op die rooilys van bedreigde spesies en is dus in ernstige gevaar om uit te sterf. Die agteruitgang van die natuurlike habitat is een van die bedreigings wat hierdie seldsame plantspesie in gevaar stel en die Papegaaiberg Natuurreservaat kan ’n belangrike rol speel om die voortbestaan van die plant te verseker.

“Die Papegaaiberg Natuurreservaat lê Stellenbosch-inwoners na aan die hart. Daar is lank en moeisaam gewerk om dié besonderse natuurerfenis as ’n beskermde gebied te verklaar. Daarom kan ons as inwoners nie toelaat dat die munisipaliteit sy plig versuim as oorhoofse bewaarder van die reservaat nie,” sê Ria Crafford, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Stellenbosch-tak.

SMS “Stellenbosch” na 45265 (R1) indien jy bekommerd is oor die toekoms van die Papegaaiberg Natuurreservaat.

 

Soortgelyke plasings