|

AfriForum bekommerd oor hernuwingsaansoeke vir vuurwapenlisensies tydens staat van inperking

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n brief aan Bheki Cele, Minister van Polisie, en genl. Khehla Sitole, Nasionale Polisiekommissaris, te rig waarin AfriForum onder meer kommer uitspreek dat vuurwapeneienaars se vermoë om hul vuurwapenlisensies betyds te hernu nou negatief beïnvloed sal word weens die staat van inperking.

Die staat van inperking, wat op 23 Maart 2020 aangekondig is, bepaal dat burgers slegs hul huise mag verlaat vir noodsaaklike redes, waaronder die aankoop van kos en vir mediese redes.

AfriForum is bekommerd dat die huidige toedrag van sake moontlik kan dikteer dat die hernuwing van vuurwapenlisensies nie as noodsaaklik rede geag word om die huis te verlaat nie, of dat polisiestasies in die lig van die ramptoestand sal weier om aansoeke te aanvaar.

AfriForum het ook in die brief navraag gedoen oor die moontlikheid van die toestaan van ’n uitsteltydperk aan vuurwapeneienaars wat deur hierdie dilemma in die gesig gestaar word.

“AfriForum het sedert die afkondiging van ’n ramptoestand onomwonde aangedui dat die organisasie as rolspeler sal deelneem aan die pogings om die virus te help bestry. Die ramptoestand moet egter só bestuur word dat daar aan alle aspekte aandag gegee word, waaronder regmatige vuurwapenbesit. Die nagmerrie wat mense moet deurgaan indien hulle nie hul lisensies binne die voorgeskrewe tydperk hernu nie, is uitmergelend en hou baie risiko’s vir dié eienaars in. AfriForum sal toesien dat alle remedies uitgeput word om vuurwapeneienaars hierdie leed te spaar,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings