|

AfriForum bekommerd oor drinkwatergehalte in Parys

AfriForum het vandag ’n dringende skrywe aan Bruce Kannemeyer, munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, gerig oor die swak gehalte van Parys se drinkwater. Dít volg nadat verskeie inwoners gekla het dat hulle gebottelde water moet koop weens die toestand van Parys se drinkwater.

’n Bekommerde inwoner van Parys, wat voortdurend monsters van drinkwater in die dorp laat toets, het vandeesweek met AfriForum kontak gemaak omdat E.Coli in die drinkwater gevind is. AfriForum gaan ook die moontlikheid ondersoek dat die water boonop nie geskik is vir bad- of stortdoeleindes nie, aangesien inwoners gesondheidskwessies aangemeld het wat moontlik met die kraanwater verband kan hou.

“Ons dring aan dat die munisipaliteit binne 48 uur aan die probleem aandag gee. Indien dit nie gebeur nie, sal AfriForum regstappe oorweeg om die munisipaliteit tot aksie te dwing – dit is hul plig om te sorg dat inwoners toegang tot veilige drinkwater het. Intussen word die inwoners van Parys versoek om nie die kraanwater te drink voor dit gesuiwer of ten minste gekook is nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings