| | |

AfriForum bekommerd oor COVID-skoolbrigades; sal skole met regsadvies bystaan

AfriForum is bekommerd oor die advertensie van die Gautengse Departement van Onderwys, waarin dié departement poste adverteer vir jong werklose jeug tussen die ouderdom van 18 en 35 jaar om as lede van COVID-19-brigades opgelei te word. Volgens dié advertensie sal die brigades by skole ontplooi word om die Departement in die uitvoer van sekere take te ondersteun. Of skole enige sê in dié ontplooiing sal hê, word nie genoem nie.

AfriForum meen dat die spesifieke rol en magte van die brigades nie duidelik gestipuleer word nie. “Dit sou sinvoller wees as die Departement met skole in gesprek getree het sodat skole self kan besluit of hulle van die brigades gebruik wil maak. Talle skole het aktiewe ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid en só ’n rol kan vanuit die gemeenskap self gevul word,” meen Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

Verdere punte tot kommer sluit in:

  • Veiligheidsmagte soos die SANW en die SAPD, wat veronderstel is om goed opgelei te wees vir krisisse soos dié, word tans weens verskeie voorvalle wyd gekritiseer vir hul swak en onbevoegde optrede. Dit laat die vraag ontstaan hoe enkele weke se opleiding lede van dié brigades voldoende voorberei om nie ook buite hul magte op te tree nie – veral in weerlose omgewings soos skoolgemeenskappe.
  • Die militaristiese ondertoon wat reeds deur die term “brigade” geskep word, is onrusbarend, veral aangesien geen ouer sy kind in ’n militaristiese omgewing wil plaas waar die brigade kortstondig opgelei word en in sommige gevalle slegs enkele jare ouer is as die kind nie.
  • Skole het baie goed gereguleerde gesagstrukture. Enige inmenging van addisionele strukture wat direk deur die provinsiale owerhede gemagtig word om onder meer inligting in te samel en veiligheidsmaatreëls te moniteer, skep die geleentheid vir magsmisbruik en onnodige inmenging in dié opsig.

“Skoolgemeenskappe moet die reg hê om te kies of hulle van sulke hulp gebruik wil maak. Waar skole nie aan dié brigades toegang tot hulle terreine, personeel en leerders wil toestaan nie, moet dié keuse gerespekteer word. As dit nié die geval is nie, sal AfriForum beheerliggame met regsadvies bystaan. Die Verenigde Nasies het reeds hul kommer uitgespreek oor die regering se drakoniese magsvergrype in sy hantering van die COVID-19-inperking. Dié lyk soos ’n verdere stap deur die regering om hul mag in skole af te dwing,” sluit Maree af.

Soortgelyke plasings