AfriForum behaal reuseoorwinning vir polisiereserviste


Die Noord-Gautengse hoë hof het vandag AfriForum se aansoek toegestaan om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om polisiereserviste verbonde aan die Kameeldrift-polisiestasie vir hul jaarlikse bevoegdheidsopleiding te stuur, sodat hulle voortaan reserviste kan bly.

Tot dusver het die SAPD geweier of gesloer om reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur. Gevolglik kon reserviste die SAPD nie na behore ondersteun nie, aangesien hulle kragtens wetgewing onbevoeg is om vuurwapens te hanteer. Die polisie het nie AfriForum se aansoek teengestaan nie.

“AfriForum het hierdie aansoek gebring en glo dat dit van nasionale belang is, omdat die getal polisiereserviste op nasionale vlak tussen 2010 en 2018 met meer as 80% gedaal het. Dit beteken dat ’n verlies van meer as 60 000 mense tot die polisie se beskikking is om misdaad te help bekamp. Dit is vir ons ’n groot oorwinning om hierdie statistiek om te keer, veral in die Kameeldrift-gebied – wat die afgelope tyd swaar onder ’n vlaag van misdaad gebuk gaan – wat hoofsaaklik plaasaanvalle insluit,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens Cameron het die SAPD verder op verskeie geleenthede aangedui dat hulle nie oor die mannekrag, en dus vermoë, beskik om hul grondwetlike mandaat uit te voer om mense in die land veilig te hou nie.

“Hierdie hofuitspraak bemagtig reserviste en verseker dat daar ’n groter teenmisdaadmag beskikbaar is om misdaad te beveg.”
“AfriForum se aansoek verplig die SAPD om toe te sien dat reserviste in Kameeldrift die bevoegdheidsheropleiding voltooi, soos bepaal deur die relevante wetgewing (waaronder die Wet op Beheer van Vuurwapens, asook die SAPD se nasionale instruksie 3 van 2014). Hierdie bevel maak die pad vir soortgelyke aansoeke op nasionale vlak gelyk en dit het dus betrekking op alle reserviste in die land,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.

Soortgelyke plasings